Willem Botha

Die gewilde musiekprogram, die kykNET Top 20 het tot ‘n einde gekom maar is binnekort terug in nuwe vere. Willem Botha is reeds besig om te skryf aan sy splinternuwe album wat einde hierdie jaar die lig gaan sien. Hy is ook vir die tweede jaar in ‘n ry die gesogde Ghoema Musiektoekennings anker-aanbieder wat regstreeks uitgesaai word.  Intussen geniet hy dit nog om ‘n veldaanbieder vir Kwêla te wees en neem gereeld foto’s van bekendes vir tydskrifte se voorblaaie.

Leah

Haar nuutste enkelsnit, Ek Mag Jou Mis het radiostasies regoor die land se ranglyste gehaal en sy is self besig om aan ‘n nuwe album te werk. Intussen toer Leah die land vol met vertonings en begin binnekort met opnames vir die nuwe seisoen van Boer Soek ‘n Vrou wat in Oktober op die kassie sal wees.  Sy toer ook hierdie jaar weer saam met Lee Scott vir hulle Battle of the Voices produksie.

ADAM

Die groep hartebrekers het onlangs twee Ghoema nominasies ontvang vir hulle album, Bewe en ook as die publiek se gunsteling vir Groep van die Jaar. Kyk uit vir die musiekvideo van hulle enkelsnit, Iets In Die Water vanaf hulle album, Bewe wat binnekort uitgereik sal word. Hulle is ideaal vir enige damesoggend en kan beslis die voete laat jeuk om die dansvloer aan die brand te dans.

Pieter Koen

Na 12 jaar het jou Saterdagaand vermaak tot ‘n einde gekom met Jukebox se laaste episode wat uitgesaai is op 30 Maart. Pieter Koen laat egter nie gras onder sy voete groei nie en beplan ‘n splinternuwe album vir begin volgende jaar. Hy is nou ook beskikbaar om by jou troue die gaste te vermaak as MC en by jou werksgeleentheid saam te kuier oor ‘n lekker spitbraai – en hy bring selfs die skaap saam!

JAY

JAY se laaste enkelsnit, Lê Bietjie Langer het al meer as 3 miljoene kyk of YouTube  gekry en is steeds ‘n groot gunsteling op radiostasies regoor die land. So as jy lekker gedans en gekuier het op JAY se laaste album kan jy uitsien na nog ‘n lekker partytjie album hierdie jaar! Hierdie winterseisoen kan jy ook vir JAY bespreek om saam met jou te jag met ‘n geleentheid om fondse vir jou skool in te samel.

 

Gerrie Pretorius

Aanhangers sal bly wees om te hoor dat Gerrie Pretorius binnekort ‘n splinternuwe album gaan uitreik! Terwyl hy besig is met internasionale toere vir Leef Jou Reis gaan hy en die pragtige Caroline Grace in Julie maand deur Namibië toer. So hy is baie opgewonde om weer bietjie die pad te vat en by damesoggende, kerke en ander funksies met sy nuwe musiek die gaste te vermaak.

Lee Scott

Lee Scott het sonder twyfel een van die beste manlike stemme in die land. Na die sukses van sy enkelsnit, Perfekte Vreemdeling gaan hy ook hierdie jaar ‘n nuwe enkelsnit bekendstel. Kliphard op SABC 2 is op ‘n produksiebreuk en vir eers gaan hy homself besig hou sanglesse en ander projekte. Hy is ook ‘n gewilde seremoniemeester vir enige funksie of skoolbyeenkoms met baie ervaring op sy kerfstok.

 

André Schwartz

Daar is min dinge wat vir André Schwartz onderkry en dit het hy bewys deur sy MNS met ‘n positiewe houding aan te pak.  Aanhangers kan uitsien na ‘n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo wat binnkoert sal uit wees asook die vol lengte album later vanjaar. Hy spog met ‘n splinternuwe produksie, Die Pad wat jou op ‘n reis neem van sy geboorte tot vandag. 

Nadia Beukes

Nadia Beukes het in 2018 haar boek, Paaie van Hoop bekendgestel en tree gereeld saam met Willem Botha op waar sy die gaste inspireer en motiveer en hy sorg vir die musikale vermaak. Sy is ook deel van die groep, Dinamiese Dames saam met hartsvriendinne Edrien Erasmus, Melissa Swart en Marissa Drummond. Die groep dames fokus op vrouwees en uniekheid en sorg vir hoendervleis oomblikke met hulle sang en voordrag.