ADAM Face twitter twitter

Biografie

Hulle het geen bekendstelling nodig nie. Met verskeie goue albums op hul kerfstok is hierdie energieke groep ‘n moet vir jou fees, funksie, skou of konsert!

OOR DIE ADAMS
Hugo Ludik is ’n skrywer, sanger, kitaarspeler en talentvolle krieketspeler. Hy het in ’n huis vol musiek grootgeword. Dit het sy liefde daarvoor laat vlamvat en hom geïnspireer om homself op sestien te leer kitaarspeel. “Ek luister regtig na alles. Daar is nie ’n genre wat ek spesifiek nie van hou nie. Solank ’n liedjie ’n goeie melodie of goeie lirieke het (verkieslik albei) dan hou ek daarvan. Van alle groepe het Queen waarskynlik die grootste invloed op my eie styl gehad,” vertel hy. Sy eerste openbare optrede was in 2003 toe hy as regsstudent by die Universiteit Stellenbosch aan die interkoshuis-serenadekompetisie deelgeneem het. Daarna het hy vir vyf jaar lank saam met sy broer, die sanger en akteur Stefan Ludik, opgetree. Op ’n stadium het hy besef dat daar is ’n tekort is aan oorspronklike Afrikaanse liedjies en toe self begin skryf. In 2008 wen hy en Willie van der Merwe die Huisgenoot Tempo-liedjieskryfkompetisie met hulle liedjie, Papsopwinterwaternat, wat later deur Kurt Darren opgeneem is.

Vanjaar vier hy sy twaalfde jaar in die musiekbedryf. Behalwe vir die musiek op ADAM se albums, skryf hy ook liedjies vir talle groot sterre soos Kurt Darren, Willem Botha, Pieter Koen en Gerhard Steyn. Hy en Vaughan Gardiner het ook hulle eie produksiemaatskappy, Muse Productions, wat musiek opneem vir verskeie kunstenaars. Wanneer jy hom vra waar die idees vir al sy liedjies vandaan kom, sê hy: “Al my liedjies kom uit persoonlike ervaring en ondervinding – hetsy direk of indirek. So ek skryf altyd oor dinge wat ek mee kan assossieer: liefde, geluk, tragedie, familie. Die musiekbedryf het my geleer om eerlik en opreg te wees met menseverhoudings en musiek… dan slaap jy soveel beter in die aand.”

 

Reynardt Hugo is al vir agt jaar in die musiekbedryf doenig as sanger en liedjieskrywer. Hierdie vermaaklikheidskunstenaar is bekend vir sy rol as dr. Tertius Jonker in die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders, het al in verskeie teaterstukke en verhoogproduksies, waaronder Houtkruis, gespeel en tree gereeld as seremoniemeester en spreker by funksies op. Hy was ook onlangs te sien as gasspeler in die fliek, Vuil Wasgoed en spog met ’n BA Drama-graad van die Universiteit van Pretoria. Reynardt is mal oor sekere klassieke- en popmusiek asook instrumentele snitte vanaf die klankbane van flieks en glo dat dit belangrik is om jou voete stewig op die aarde te hou, al is jy hoe suksesvol.

As jy hom vra watter werk hy sou wou doen as hy nie mense vermaak het nie, verklap hy: “Ek sou dit love om te kon skilder en dat mense my werke kon koop, maar ek kan ongelukkig nie baie goed teken nie.” Gesondheid is ook vir hom baie belangrik en daarom draf hy elke dag sowat vyf kilometer. Hy is saam met Hugo verantwoordelik vir die skryf van ADAM se liedjies en sê: “Aan die een kant is die skryfproses baie meganies. Jy skryf spesifiek vir die mark. Jy moet, anders gaan jy nie ’n lewe kan maak nie. Aan die ander kant is dit baie persoonlik. Dit kom soos wat jou hart die lewe onvoorwaardelik liefhet en jy jouself oopmaak vir inspirasie.”
Kyle Grant is ’n sanger, danser en akteur wat sy musiek- en verhoogloopbaan by Barnyard Teaterproduksies begin het. Sy ouers is albei musikante, sy ma ’n sanger en pa ’n dromspeler, en musiek is dus nog altyd in sy bloed. Hy het 2003 sy eerste solo-album opgeneem en is al vyftien jaar in die musiekbedryf. Van die hooftepunte in sy loopbaan, sluit in sy rol as Schalk in die televisiereeks Egoli, asook rolle in suksesvolle verhoogproduksies en musiekblyspele soos Dirty Dancing, The Musical en High School Musical (waarin hy hoofrolle vertolk het), Chess – The Musical, Sunset Boulevard en Hairspray wat almal internasionaal opgevoer is. Hy is mal oor Jazz en R&B en meen dat Boyz II Men, Paolo Nutini, Frank Sinatra en Brian McKnight van die grootste invloede was op sy eie musiekloopbaan.

Wanneer hy nie saam met ADAM optree nie, bestuur hy sy eie musiekskool en doen hy ook solo-optredes. As die vermaakbedryf nie sy loopbaan was nie, sou hy graag met diere wou werk omdat hy ’n baie sagte plek vir die natuur het. Hy was ook in sy jonger dae ’n SA-roeikampioen. Wanneer jy hom vra wat sy werk hom geleer het, antwoord hy: “Om myself te wees sonder ’n regisseur. Dit was ’n groot aanpassing om van die teaterwêreld na die popmusiekbedryf oor te slaan. Ek moes ook leer om meer oop met die publiek te wees. Ek was altyd ’n baie skaam en private mens, maar die Afrikaners het my bietjie uit my dop laat kruip.”

 

ADAM was nog altyd een van die mees hardwerkende groepe in Suid-Afrika en het beslis die vrugte daarvan gepluk. Drie van hulle albums, ADAM (2011), Vir Jou Gemaak (2012) en Goud (2012), het gouestatus bereik. In 2014 word hulle liedjie, Sal Oorlog Vir Jou Maak, ingesluit as deel van die klankbaan van die plaaslike lokettreffer, Pad Na Jou Hart, en het dit ’n oornagsukses geword. Nie net het die treffer op die nommer een posisie van radiostasies se speellyste gepronk nie, maar dit is ook vereer met ’n Huisgenoot Tempo-benoeming vir Liedjie van die Jaar en ’n Ghoema-toekenning vir Liedjie van die Jaar. Ander Ghoema-musiektoekennings op hulle kerfstok sluit in Beste Nuweling (2011) en Groep van die Jaar (2015).

Verder het die driemanskap ook al by van die land se grootste konserte opgetree, waaronder Huisgenoot Skouspel en die verhoog gedeel saam met van die grootste sterre. Die groep het ook ’n Engelse kortspeleralbum, Young and Wild, uitgereik saam met Daniel Baron, wat baie goed ontvang is. Buiten vir hulle plaaslike sukses, het hulle ook vir die Ierse groep, Westlife, geopen in Namibië en vir die Australiese rockgroep, Air Supply, tydens hulle Suid-Afrikaanse toer.

 

ADAM het nog baie drome en planne vir die toekoms en streef daarna om hulself te verbeter en te vernuwe met elke nuwe projek wat hulle aanpak. BEWE is nie net ’n opwindende bewysstuk van hoe baie hulle gegroei het as kunstenaars nie, maar is ook ’n versamelstuk waarsonder geen musiekliefhebber se CD-rak volledig sal wees nie.

ADAM – BEWE

IN KORT:

• Voorwoord
• Vaderland
• Goeie Ou Dae
• Sê My (Bewe)
• Kom wat wil
• Kalmeer
• Hyg
• Daai Oë
• Haar Vuur
• Iets In Die Water
• Jy Maak My
• Kalmeer (Akoesties)
• Dis Al Wat Ek Het (Akoesties)
• Plak Jou Hart Vas (Akoesties)
• Say What You Want (Akoesties)
• Ken Jou Waarde met Early B

Koop Nou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

three × five =

clear formSubmit