Erik Holm is ‘n Suid-Afrikaanse akteur wat bekend is vir sy rol as Riaan Malherbe, ‘n kwadrupleeg. Hy speel die unieke karakter al sedert 2008 in die gewilde kykNET reeks, Binnelanders. Sedert sy spinale besering 14 jaar gelede, het hy ‘n loopbaan in die publieke oog nagevolg. Hy speel rolle in verskeie flieks en het selfs al die regie behartig. Sy lewenspassie het hom ook betrokke gemaak by uitreikingsprojekte, motiveringspraatjies, musikale optredes, komedie en verskeie avontuurlike sportaktiwiteite.

Nadat hy sy honeurs in drama by Tuks in 2006 voltooi het, het hy sy loopbaan in teater en film begin. In 2007, terwyl hy die rol van Benjamin Komoeti in die bekende verhoogproduksie “Fiela Se Kind” vertolk het, het sy lewe drasties verander. Hy het sy nek gebreek in ‘n frats duikongeluk terwyl hy vlugbal saam met sy mede akteurs gespeel het. Met die hulp van sy familie en vriende, asook as sy positiewe uitkyk op die lewe, het hy sy selfvertroue teruggewen en sien homself vandag as die gelukkigste kwadrupleeg in die geweste.

In 2010 was hy mede skrywer en assistent regisseur van die gewilde Afrikaanse fliek, Liefling, waarin hy ook self verskyn het. Hy was ook assistent regisseur vir die fliek, Pretville, in 2013. Hy vertolk rolle in teaterproduksies soos “Dogma”, deur Christiaan Olwagen, die eenman vertoning “Blou-Blou”, deur Jan Groenewaldt , “Plant Vir My ‘n Boom”- deur Deborah Steinmair en Henry Milne’s se “Vrou Uit Die See”. Verder was hy ook ‘n nuusleser vir die Afrikaanse nuus op SABC 2, sowel as DStv nuus vir 3 jaar.