André Schwartz is beslis een van die grootste supersterre wat die plaaslike vermaakbedryf oor die afgelope
paar dekades opgelewer het.
Hy slaan asems weg met sy besonderse stem en is die enigste Suid-Afrikaanse manlike kunstenaar wat die Andrew
Lloyd Webber stempel van goedkeuring dra.
In 2018 stel hy sy splinternuwe enkelsnit, Tweede Kans bekend wat geskryf is deur Joe Foster. ‘Ek was mal oor die
liedjie toe ek dit vir die eerste keer hoor. Die melodie is beeldskoon en die lirieke vang empatie vas,’ verduidelik André.
Die bekroonde sanger, liedjieskrywer en verhoogpersoonlikheid het egter in dieselfde jaar swaar nuus ontvang. Hy is
gediagnoseer met motorneuronsiekte (MNS). Die siekte vernietig motor neurone, die senuweeselle wat die spiere
beheer vir essensiële aktiwiteite soos praat, loop, asemhaal en sluk gebruik.
Hy het die nuus uitgevind terwyl hy as Captain von Trapp in die gewilde musiekblyspel, The Sound of Music by
Montecasino opgetree het. Maar dit het geensins André se moed of vurige persoonlikheid beinvloed nie, maar eerder
hom aangehits om elke dag voluit te lewe en nog harder te werk om sy passie vir musiek uit te leef.
Na die sukses van sy twee enkelsnitte, Tweede Kans en Ek Sal Wag is sy splinternuwe vollengte album, Die Pad in
Julie 2019 bekendgestel. Dit album het ‘n tipiese popklank waaroor sy aanghangers gaande is.
Teater was nog altyd een van sy grootste liefdes en hy kombineer storievertel en sy grootste treffers in sy nuwe
teaterproduksie, Die Pad! Gehore kom geniet André Schwartz ‘up close and personal’ en beleef oomblikke van
nostalgie met gunstelinge soos Lief Vir Alles Hier, Ek Wil Jou Nooit Weer Sien en natuurlik van sy nuutste musiek ook.
Sy verhoogpersoonlikheid is aangrypend en hy is lief daarvoor om met die gehoor te kuier en by sy vertoning te betrek.
As tiener het sy passie vir die kunste behoorlik vlamgevat toe hy as 14-jarige sy televisiedebuut gemaak het. Alhoewel
hy meer op musiek gefokus was het hy latere jare rolle in onder andere 7de Laan en Sterlopers vertolk en het selfs ‘n
kosprogram op M-Net aangebied.
Om sy talent te bevorder het hy klassieke musiekopleiding gehad en is net so gemaklik agter die klavier as agter die
mikrofoon. Sedertien het hy 14 albums uitgereik waarvan byna almal goue status behaal het en talle van die liedjies
kom ook sy eie pen.
Gebore vir die verhoog het hy bekendheid verwerf vir kragtige hoofvertolkings in verskeie musiekblyspele soos Joseph
and the Amazing Technicolour Dreamcoat, Jesus Christ Superstar, Pirates of Penzance en Phantom of the Opera. Vir
laasgenoemde het hy talle toekennings ontvang en word beskou as een van die beste ‘Phantoms’ ter wêreld.
Die veelsydige kunstenaar het ook ‘n kop vir besigheid en besit sy eie bemarkingsmaatskappye, André Schwartz
Marketing wat groot projekte saam met verskeie korporatiewe instansies aanpak.