Leah & Lee Scott se Battle of the Voices vertoning is ‘n onvergeetlike produksie wat oud en jonk sal vermaak.

Leah het die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf stormgeloop met haar debuutalbum en vinnig volksbesit geword. Haar album, Wonderwerk spog met goue status behaal en sy is ook die deesdae die aanbieder van kykNET se immergewilde Boer Soek ‘n Vrou reeks. Van haar grootste treffers sluit in Met Jou Klere Aan, Volmaan, Jou Liefde en Ek Mag Jou Mis en sy was ook nou vir twee jaar in ‘n ry Bok Radio se Vroulike kunstenaar van die Jaar met verskeie Tempo- en Ghoema Musiektoekennings op haar kerfstok. In Maart 2018 is die Afrikaanse chick fliek, SUSTERS bekendgestel waarin Leah saam met Diaan Lawrenson en Quanita Adams verskyn het. Die fliek het verskeie loketrekords tydens die openingsnaweek gebreek. Haar splinternuwe enkelsnit, Kyk Na My word binnekort bekendgestel en haar nuutste album sal September 2019 op die rakke verskyn.

Na 11 jaar in die musiekbedryf kan Lee reeds ‘n lang lys van prestasies agter sy naam skryf. Hy was nie net 2 jaar lid van die boyband – Hi-5 nie, maar het ook aan verskeie verhoogproduksies deelgeneem, waaronder Abba Magic SA, Reik na die Sterre – Die Musical en vele meer. Lee was ook deel van Jennifer Rush se Suid-Afrikaanse toergeselskap in 2015.

Hy was die wenner van kykNET se Musiekvideo projek kompetisie vir sy enkelsnit, Perfekte Vreemdeling en sy tweede musiekvideo as deel van die projek vir sy enkelsnit, Vry word September 2019 uitgereik. Hy is tans ook die aanbieder van die musiekprogram, Kliphard op SABC 2.

Die vertoning sluit in medleys van die grootste groepe in musiekgeskiedenis asook ‘n paar moderne pop treffers waarmee die twee veelsydige sangers mekaar uitdaag!
Maar dis nie al nie – Leah en Lee gaan ook van hulle eie liedjies sing wat al op verskeie plaaslike radiostasies en televisieprogramme se ranglyste verskyn het.

Sien uit na ‘n aand van nostalgie, sielvolle ballades en op-en-wakker hits deur twee van die beste stemme in die plaaslike musiekbedryf!