Die talentvolle sangeres, pianis en aktrise met die groot glimlag helder enige vertrek op wanneer sy instap. Bianca Le
Grange se middelnaam is Joy en dit beskryf presies haar borrelende en passievolle persoonlikheid.

As jong meisie het Bianca ook ’n groot liefde vir dans gehad en sy het opleiding in ballet, moderne én Spaanse danse
ontvang. Sy het haar skoolopleiding by die National School of the Arts voltooi waar sy beide klassieke en kontemporêre
musiek studeer het. Na matriek het sy deur Suid-Afrika, Namibië en Botswana gereis om verligtingswerk vir
behoeftiges te doen.

Musiek was nog altyd Bianca se grootste passie en haar loopbaan is geskaaf rondom ’n lewenslange fokus op
vermaak – insluitende langtermyn én toegewyde opleiding. Haar groot deurbraak in die bedryf was egter haar
verskyning op die plaaslike talentkompetisie, Idols . Haar vokale tegniek en fluweelstem het die publiek én
musiekkenners laat regop sit.

Haar eerste album het in 2003 die lig gesien en haar tweede album, Dis My Somer, is in 2005 uitgereik. Vyf jaar later is
haar derde album, Met My Hele Hart en Siel, in September 2010 bekendgestel en in 2012 haar vierde album, Net
Jy/Just You.

Bianca verstaan ook besigheid en het haar eie vermaaklikheidsmaatskappy, BESUPREME MUSIC gestig. Sy is ’n
bekende gesig op televisie, verskyn gereeld op die verhoog in musiekblyspele en is betrokke by verskeie sosiale
jeugprojekte. Sy is een van die mees veelsydigste kunstenaars in die bedryf waar sy haar liedjieskryf-, sing- en
danstalente in ’n verskeidenheid rolle toepas. Of sy nou op die verhoog is by ’n korporatiewe funksie of agter die
mikrofoon verskyn – sy slaan asems weg met haar indrukwekkende stem en passie vir musiek.

Sy het nie net al met talle plaaslike legendes en bekendes gewerk nie, sy het ook al die internasionale verhoog betree
en gedeel met Usher, P Diddy, Alicia Keys en Beyoncé. Sy was ook ’n spesiale gas op die Jerry Springer Saturday
Night Live Show by Ceaser’s Palace. Plaaslik is sy ook ’n bekende gesig by die Civic Theatre waar sy gereeld al die
hoofrolle in pantomimes vertolk het. Sy was deel van Cinderella en Snow White. Een van haar loopbaan hoogtepunte
is haar optrede saam met Sealaelo Sealota by die Eldos Jazz Festival wat deur meer as 25 000 mense bygewoon is.
Dié dame met die groot persoonlikheid het net so ’n groot hart en is ambassadeur vir die Vulindlel’ eJozi Programme
vir die City of Joburg. Haar verhoogproduksie, Bianca and the Swing Sisters, wat sy self geskryf het, is by die Mardi
Gras Theatre aangebied om fondse vir die Miriam Makeba Home for Girls in te samel.

In 2016 het sy met die aantreklike en talentvolle David Johnson van Getroud met Rugby-faam getrou en dié
glanspaartjie werk tans aan ’n Afrikaanse duet wat in 2020 die lig sal sien.

BIANCA LE GRANGE – KALIMERA

Single met Bianca le Grange, Loukmaan Adamsn, Hemelbesem en Bjarne. Uitgereik in 2019.09.23

  1. Kalimera

KOOP NOU!