AndréSchwartz & Coenie de Villiers:“Grensloos”

Twee van die bekendste musikante in Suid-Afrika, André Schwartz en Coenie de Villiers span vir die heel eerste keer kragte saam in die musiekproduksie Grensloos. “Ons dreig al jare lank om iets saam te skep, en ek en André het gewoon besluit dat nóú die tyd is, terwyl ons nog kan,” vertel Coenie.

“Daar is eintlik vier van ons op die verhoog: die vierde teenwoordigheid is 2 vleuelklaviere, want ons speel álbei tydens die vertoning. Almal weet dat André ‘n sanger van internasionale formaat is, maar nie almal besef hy is ook ‘n koning agter die klawers nie,” meen Coenie. “Dis ook ‘n stiller vertoning wat so effe inwaarts kyk.”

Gras groei nie onder hierdie dinamiese groep talentvolle mans se voete nie en hulle toer die land vol met optredes by damesoggende, groot feeste en selfs privaatfunksies.

Maar waarom die titel Grensloos? “Ons wou graag iets skep wat oor grense heen strek,” sê André. “Daar is ongelooflike asook minder bekende komposisies uit onder meer Frankryk en Nederland, en dan natuurlik ook uit Suid-Afrika. Ons voer van Coenie en my eie komposies uit, en ‘n hele paar daarvan sal heeltemal nuut wees vir gehore. Ons wou albei ‘n vertoning sonder ‘n enkele kompromis saamstel – ‘n mens weet nie wanneer jy weer die kans kry nie!”

Tydens die vertoning praat Schwartz en De Villiers ook oor hulle eerste opnames. “Dis ‘n bietjie soos om na jou ou matriekafskeid foto’s te kyk,” lag albei musikante. “Hopelik het ons darem albei deur die jare gegroei; nou kan ‘n mens ‘n vertoning saamstel waar jy die goed kan doen wat jy nog altyd wou. En dis vrek lekker om saam te werk – ons moes dit lankal probeer het!”

Schwartz en De Villiers word vir ‘n oomblik ernstig. “En dis ook ‘n positiewe vertoning – niemand grens oor sy of haar lot in die lewe nie. Dis ongelooflik om die spektrum van liedere te sien wat juis hierdie boodskap van leef en laat leef oor alle grense weerspieël – nie net die grense tussen lande nie, maar ook die grense tussen mense, geslagte en kulture. Aan die einde van die dag is almal maar net méns …”

Kom vier die lewe in woord en lied, uitgevoer deur twee van ons land se voorste musikante.

Die debuutvertoning van Grensloos het plaasgevind in ‘n stampvol Atterbury Teater en 4 stampvol vertonings by Theatre on the Bay in Kaapstad. Die gehoor was meegesleur. “Dis lekker om ‘n staande ovasie tydens die vertoning te kry,” lag die twee kunstenaars.

Daar is iets magies wat gebeur wanneer dié twee kunstenaars die verhoog betree – onmisbaar en onvergeetlik.