Reynardt Hugo is ’n gewilde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, liedjieskrywer, motiveringspreker en skrywer. Hy werk
al sedert 2008 in die vermaakbedryf en is bekend vir sy rol as dr. Tertius Jonker in die gewilde kykNET-sepie,
Binnelanders . In 2010 het hy saam met Hugo Ludik die bekroonde popgroep, ADAM, begin wat oor die jare die land vol
getoer en verskeie toekennings gewen het en verantwoordelik was vir treffers soos Liefde Soldaat , Kasteel ,
Hoogtevrees , Sê My , Iets In Die Water en meer. Nadat die groep aan die einde van 2019 ontbind het, het Reynardt
besluit om op sy solo-musiekloopbaan te fokus.

Dié veelsydige vermaaklikheidster se debuut-enkelsnit – Die Rivier – wat hy saam met Abel Knobel en Sean Butler
geskryf het, is in Maart 2020 bekendgestel. “Dis ’n inspirerende popliedjie waarmee ek al vir baie lank in my hart
rondloop,” deel hy. “Dit gaan oor hoe ek my hart vir die Here gegee het. Hoe ek myself moes vergewe vir goed wat ek
in die verlede gedoen het en mense moes uitsny wat ’n slegte invloed op my gehad het. Dat die Here se genade
genoeg is en dat ek alles in my vermoë sal doen om eerder in die lig as in die donker te leef.”

Reynardt is in Durban gebore, maar het aan Hoërskool Zwartkop in Centurion gematrikuleer. Alhoewel hy nog altyd lief
was vir musiek, het hy eers in graad-elf ontdek dat hy kan sing en het hy eers na skool besluit dat hy graag wil
toneelspeel. Vandaar sy besluit om BA Drama by die Universiteit van Pretoria te studeer, waarna hy ’n rol by
Binnelanders losgeslaan het. Dit was ook in hierdie tyd wat sy paaie met die van Hugo Ludik gekruis het.

Oor die jare was hy deel van verskeie suksesvolle teaterstukke en verhoogproduksies waaronder Houtkruis , het hy
gereeld as seremoniemeester opgetree by funksies en het hy ook gasrolle gehad in rolprente soos Pretville en Vuil
Wasgoed . Saam met ADAM het hy ses suksesvolle albums uitgereik, verskeie Ghoema-, Huisgenoot Tempo- en
SAMA-musiektoekennings gewen en selfs die geleentheid gehad om vir die internasionale groep, Air Supply, te open.
Hy beskryf homself as ’n rustige diere- en koffieliefhebber wat dit geniet om tyd saam met die vrou in sy lewe en hulle
honde te spandeer. Verder geniet hy dit ook om tuin te maak, gimnasium toe te gaan en Raakrugby saam met sy
vriende te speel.

Reynardt is mal oor dokumentêre reekse, kunsfilms en animasieprente en geniet ’n wye verskeidenheid musiek – van
Bethel se Christelike liedjies, tot instrumentele snitte en poptreffers soos Ed Sheeran, Jonas Brothers, Katy Perry en
meer.

Die vier-en-dertigjarige kunstenaar glo dat dit belangrik is om jou voete stewig op die aarde te hou, al is jy hoe
suksesvol. As jy hom vra watter werk hy sou wou doen as hy nie mense vermaak het nie, verklap hy: “Ek sou dit love
om te kon skilder en dat mense my werke kon koop, maar ek kan ongelukkig nie baie goed teken nie.”
Coenie de Villiers, Hans Strydom, Dawid Minnaar, Michelle Botes en Ben Kruger word uitgesonder as sy grootste
plaaslike rolmodelle in die vermaakbedryf, terwyl Leonardo DiCaprio, Ricky Gervais, Queen en Justin Bieber op
internasionale front uitstaan.

Buiten vir die feit dat hy eersdaags met die liefde van sy lewe – An-Maré Roothman – trou, is hy ook besig om te skryf
aan ’n boek oor sy lewe, wat hy in samewerking met NB Uitgewers gaan uitgee. Hy speel ook, saam met Leah, die
hoofrol in die teaterstuk, Doringrosie , wat in Julie 2020 by die Staatsteater te sien is.

Daar was voorwaar sover baie opwindende uitdagings op Reynardt Hugo se loopbaanpad, en hy moes hard werk en
geduldig wag om te kom waar hy nou is. Maar hy is baie dankbaar dat hy nie moed verloor het nie en elke dag die
geleentheid het om te kan doen waarvoor hy lief is.

REYNARDT HUGO – DIE RIVIER

Dit is Reynardt Hugo se eerste solo-enkelsnit na byna 10 jaar as deel van die groep ADAM. Die snit handel oor ‘n nuwe begin en als wat dit inhou en bied.

LUISTER HIER!

 

ADAM – BEWE 

BEWE is ‘n spesiale dubbel-CD wat ‘n hervrystelling van die trio se suksesvolle album, Hoogtevrees, wat in Augustus 2016 uitgerei is insluit, asook tien splinternuwe snitte wat wissel tussen voetstamplekker dansliedjies, sielvolle ballades en kreatiewe verwerkings wat ou gunstelinge.Uitgereik in 2018.

1. Voorwoord

2. Vaderland

3. Goeie Ou Dae

4. Sê My (Bewe)

5. Kom wat wil

6. Kalmeer

7. Hyg

8. Daai Oë

9. Haar Vuur

10. Iets In Die Water

11. Jy Maak My

12. Kalmeer (Akoesties)

13. Dis Al Wat Ek Het (Akoesties)

14. Plak Jou Hart Vas (Akoesties)

15. Say What You Want (Akoesties)

16. Ken Jou Waarde met Early B

 

Koop Nou!

 

ADAM & Daniel Baron – Young And Wild

 

Na die sukses van hulle enkelsnit, Say What You Want het ADAM en Daniel Baron verder kragte saamgespan om ‘n 6 snit album bekend te stel. Die kragtige album is gelaai met ‘n danstreffer of twee sowel as emosionele ballades. Dit is duidelik dat ADAM en Daniel Baron se verskillende klanke saamsmelt vir ‘n eindproduk wat jou sal hoendervleis gee. Uitgereik in 2015.

 

1. Say What You Want

2. You

3. How

4. We Made It

5. Young And Wild

6. City Of Dreams

7. Say What You Want (Acoustic)

 

Koop Nou!