Robbie is ’n kunstenaar eie in sy soort. As akteur, sanger, liedjieskrywer en filmmaker kan hy jou laat lê van
die lag, maar jou ook dieper laat delf in die dinge van die lewe.
’n Grapjas is hy beslis, maar dis ook daardie ander sielvolle kant wat hom oor die jare `n groot gunsteling onder
Afrikaanse aanhangers gemaak het. Oorspronklik, humoristies, diep. Dit is die drie woorde waarmee Robbie Wessels
se werk beskryf kan word.
In 2018 het hy en Bok van Blerk kragte saamgespan vir die hartroerende duet, Die Sluise Van Die Hemel wat by die
gesogde 2019 Ghoema Musiektoekennings bekroon is met die toekennings vir Mees Afgelaaide Liedjie van die Jaar
asook die Mees Gestroomde Liedjie van die Jaar.
Die liedjie lê baie naby aan Robbie se hart en hy het besluit om dit die titel van sy nuutste album te maak. Die Sluise
van die Hemel album bevat 13 snitte wat wissel van komiese tot emosie belaaide lirieke en bevat ook sy treffer Khoi
And Son wat al meer as ‘n halfmiljoen kyke op YouTube het. Sy splinternuwe liedjie, Plaasjapie wat die storie vertel
van ‘n boer wat tans in die stad woon en na sy plaas terugverlang, is reeds ‘n groot gunsteling onder sy aanhanger.
Robbie is as Vrystater gebore en het op ’n plaas buite Kroonstad groot geword, as Kapenaar gematrikuleer, en as
Gautenger het hy sy diploma in Drama by Tshwane Universiteit van Tegnologie gewerf. In 2002 het hy bekend geword
as die karakter Poena in die gewilde TV-reeks Gauteng-alêng-alêng en in 2005 verras hy die land met sy talent as
sanger en liedjieskrywer met die album, My Vissermanvriend Se Pa. Hierdie album het 120 000 kopieë verkoop. In
2005 word Robbie by die Huisgenoot Tempo-toekennings as gunsteling nuweling aangewys en in 2006 word sy
tweede album, Halley Se Komeet, by die KKNK vrygestel.
Die reuse trefferliedjie Leeuloop word deur Vodacom gebruik vir hul advertensieveldtog en die grapmaker het omtrent
die land aan die gons gehad . Daarna het hy verskeie treffer albums uitgereik onder andere Afrika Sonsak in 2009,
Kaalvoet in 2011 asook Als Wat Ek Het in 2014. Bekende enkelsnitte op hierdie albums het ingesluit Hou Vas Jou
Matras, Waar Lê Jy Vanaand?, Verbode Vrugte, Asseblief my Lief, Die Coach Se Speech, Asetileen En Suurstof, All
Blacks teen die All Blacks en vele meer.
Sy album, Woestyn is in Junie 2017 uitgereik en is weer ‘n opsomming van Robbie se tong-in-die-kies humor maar
bevat ook ‘n paar ballades wat jou voete onder jou sal uitslaan. Een van die enkelsnitte, Mphe Di Hoenor het reeds
meer as 6,6 miljoen kyke op YouTube en ‘n paar maande later reik hy die Engelse liedjie, Bobjan uit wat ook al meer
as 2,5 miljoen kyk op YouTube opgelewer het.
Net voor die 2019 Rugby Wêreldbeker het Robbie die rugbyalbum, Robbie Wessels en sy Bokke in September
dieselfde jaar uitgereik om gees te bou en die Springbokke aan te moedig. Hy en ‘n paar van sy sangervriende soos Jo
Black, Appel, Early B, Pieter Koen en nog ander het kragte saamgespan vir die lekkerluister-album.
Al Robbie se liedjies is oorspronklik en word uit persoonlike ervaring neergepen. Met sy lewenspad kruis Robbie baie
interessante mense, wat toevoeg tot al die stories wat hy met soveel deernis vertel deur sy musiek. Robbie het ‘n
unieke aanvoeling vir die wêreld en sy mense en dit word duidelik gesien en gehoor in sy liedjies. Te midde van sy
sukses gee hy slegs krediet aan sy Skepper wat hom hierdie geskenk gegee het om mense te kan vermaak. “Ek is ‘n
rustige ou wat lief is vir my land en my familie” sê Robbie.
“Afrikaanse musiek is nog een van my liefdes en ek hoop dat ek ‘n bydrae kan lewer. Dit is ‘n plesier en ‘n eer om vir
die land en sy mense op te tree.”
Gepraat van sy vele talente, Robbie en sy broer Hamilton het saam hul eerste draaiboek geskryf genaamd 100 Meter
Leeuloop. Bekende gesigte in die komedie het ingesluit Hanna Grobler, Emo Adams, Annette Engelbrecht en natuurlik
Robbie as Manie Mol. Hierdie skreeusnaakse film het sy verskyning op die grootskerm gemaak in 2013.
Robbie se liefde vir teater word ook nie opsy gesit nie en in 2013 maak hy sy verskyning in die Jesus Musiekblyspel as
Johannes die Doper by die Staatsteater onder leiding van Deon Opperman. Hy’s bekend as ‘n bok vir sports en het
ook die rol van Kobus vertolk in die gewilde Afrikaanse kykNET sepie Binnelanders om sy talent as akteur verder uit te
brei.
Robbie is een persoon wat glad nie kan stilsit nie en is altyd besig met ’n nuwe projek of album so hou gerus sy sosiale
media platforms dop!