André Schwartz en Coenie de Villiers, twee van Suid-Afrika se mees bekende musikante, kombineer hulle kragte vir die eerste keer vir die produksie Grensloos. “Ons het al jare gedreig om saam iets te skep, en nou het daardie tyd aangebreek!” het Coenie verklaar.

Tydens elke optrede, bring die twee klaviermeesters twee vleuelklaviere saam, waarmee hulle albei speel. Coenie verduidelik dat almal weet van André se internasionale status as sanger, maar nie almal besef dat hy ook ’n briljante klawervoorman is nie. Hy het ook gesê dat die vertoning ’n stillere kant het en meer inwaarts kyk.

André en Coenie toer deur die hele land, waar hulle optredes by damesoggende, groot feeste en selfs privaatfunksies aanbied.

Maar waarom die titel Grensloos? “Ons wou graag iets skep wat oor grense heen strek,” sê André. “Daar is ongelooflike asook minder bekende komposisies uit onder meer Frankryk en Nederland, en dan natuurlik ook uit Suid-Afrika. Ons voer van Coenie en my eie komposies uit, en ’n hele paar daarvan sal heeltemal nuut wees vir gehore. Ons wou albei ’n vertoning sonder ’n enkele kompromis saamstel – ’n mens weet nie wanneer jy weer die kans kry nie!”

Tydens die vertoning praat Schwartz en De Villiers ook oor hulle eerste opnames.

“Dis ’n bietjie soos om na jou ou matriekafskeid foto’s te kyk,” lag albei musikante. “Hopelik het ons darem albei deur die jare gegroei; nou kan ’n mens ’n vertoning saamstel waar jy die goed kan doen wat jy nog altyd wou. En dis vrek lekker om saam te werk – ons moes dit lankal probeer het!”

Schwartz en De Villiers word vir ’n oomblik ernstig. “En dis ook ’n positiewe vertoning – niemand grens oor sy of haar lot in die lewe nie. Dis ongelooflik om die spektrum van liedere te sien wat juis hierdie boodskap van leef en laat leef oor alle grense weerspieël – nie net die grense tussen lande nie, maar ook die grense tussen mense, geslagte en kulture. Aan die einde van die dag is almal maar net méns …”

Kom vier die lewe in woord en lied, uitgevoer deur twee van ons land se voorste musikante.

Die debuutvertoning van Grensloos het plaasgevind in ’n stampvol Atterbury Teater en 4 stampvol vertonings by Theatre on the Bay in Kaapstad. Die gehoor was meegesleur. “Dis lekker om ’n staande ovasie tydens die vertoning te kry,” lag die twee kunstenaars.

Daar is iets magies wat gebeur wanneer dié twee kunstenaars die verhoog betree – onmisbaar en onvergeetlik.