Reynardt Hugo is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse akteur, musikant, liedjieskrywer, motiveringspreker en skrywer. Hy het in 2008 in die vermaaklikheidsbedryf begin en is bekend vir sy rol as dr. Tertius Jonker in die kykNET-sepie, Binnelanders.
In 2010 het hy saam met Hugo Ludik die popgroep, ADAM, gestig wat oor die jare landwyd getoer het en verskeie toekennings ontvang het. Hulle treffers het onder andere Liefde Soldaat, Kasteel, Hoogtevrees, Sê My, Iets In Die Water en meer ingesluit. Nadat die groep aan die einde van 2019 ontbind het, het Reynardt besluit om op sy solo-musiekloopbaan te fokus.
Dié veelsydige vermaaklikheidster se debuut-enkelsnit – Die Rivier – wat hy saam met Abel Knobel en Sean Butler geskryf het, is in Maart 2020 bekendgestel. “Dis ’n inspirerende popliedjie waarmee ek al vir baie lank in my hart rondloop,” deel hy. “Dit gaan oor hoe ek my hart vir die Here gegee het. Hoe ek myself moes vergewe vir goed wat ek in die verlede gedoen het en mense moes uitsny wat ’n slegte invloed op my gehad het. Dat die Here se genade genoeg is en dat ek alles in my vermoë sal doen om eerder in die lig as in die donker te leef.”
Einde 2020 stel hy sy tweede enkelsnit, Diep Binne My bekend. Die liedjie is geskryf deur Reynardt en Sean Butler en die musiekvideo het kort daarna die lig gesien. “Die video is soos ’n baie kort, kortfilm. Die storie handel oor ’n paartjie wat by ’n kruispad gekom het in hulle verhouding/huwelik, waar hulle moet besluit of hulle wil opgee of werk aan die verhouding,” vertel hy.
Reynardt is in Durban gebore en het aan Hoërskool Zwartkop in Centurion matrikuleer. In graad 11 het hy ontdek dat hy kan sing en het toe besluit om Drama te studeer by die Universiteit van Pretoria. Na sy studie het hy ’n rol by Binnelanders gekry, wat sy paaie met dié van Hugo Ludik gekruis het. Hy was ook deel van verskeie suksesvolle teaterstukke, verhoogproduksies en films soos Pretville en Vuil Wasgoed.
Saam met ADAM het hy ses albums uitgereik en musiektoekennings gewen, en hy het selfs die geleentheid gehad om Air Supply te open.
Reynardt is ’n rustige diere- en koffieliefhebber wat dit geniet om tyd saam met sy vrou en hulle honde te spandeer. Hy is ook gek op tuinmaak, gimnasiumbesoeke en Raakrugby speel saam met sy vriende.
Reynardt is mal oor dokumentêre reekse, kunsfilms en animasieprente en geniet ’n wye verskeidenheid musiek – van Bethel se Christelike liedjies, tot instrumentele snitte en poptreffers van Ed Sheeran, Jonas Brothers, Katy Perry en meer.
Die 34-jarige kunstenaar glo dat dit belangrik is om jou voete stewig op die aarde te hou, al is jy hoe suksesvol. As jy hom vra watter werk hy sou wou doen as hy nie mense vermaak het nie, verklap hy: “Ek sou dit love om te kon skilder en dat mense my werke kon koop, maar ek kan ongelukkig nie baie goed teken nie.”
Coenie de Villiers, Hans Strydom, Dawid Minnaar, Michelle Botes en Ben Kruger word uitgesonder as sy grootste plaaslike rolmodelle in die vermaakbedryf, terwyl Leonardo DiCaprio, Ricky Gervais, Queen en Justin Bieber op internasionale front uitstaan.
Buiten vir die feit dat hy eersdaags met die liefde van sy lewe – An-Maré Roothman – trou, stel hy in Februarie 2021 sy autobiografie, Soldaat bekend wat hy in samewerking met NB Uitgewers gaan uitgee.
Reynardt Hugo was blootgestel aan verskeie uitdagings op sy loopbaanpad, waar hy hard moes werk en geduldig moes wag om te kom waar hy vandag is. Hy is baie dankbaar vir die geleentheid wat hy elke dag het om te kan doen waarvoor hy lief is.