Wanneer jy na die drie manne van ADAM se musiek luister, is dit maklik om te verstaan hoekom dié musiekgroep so gewild is in die Afrikaanse musiekbedryf.

Hierdie drie musikante, Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant, het nou maar een maal ’n manier om pragtige lirieke te verweef met hulle kenmerkende unieke styl en dit in perfekte harmonie met luisteraars te deel. Hulle nuwe album, Bewe is in Mei 2018 uitgereik en bou voort op die wenresep wat van dag een af aanhangers se harte verower het.

Die nuwe album is deur die publiek opgeraap en die eerste enkelsnit, Sê My se tong-in-die-kies musiekvideo het al byna ‘n halfmiljoen kyke op YouTube. Hulle gaan ook binnekort ‘n musiekvideo vir hulle derde enkelsnit vanaf die album, Iets In Die Water bekendstel.

Bewe is hierdie jaar benoem vir ‘n Ghoema Musiektoekenning in die kategorie Album Deur ‘n Groep of Duo en hulle het selfs ‘n nominasie ontvang vir Groep Van Die Jaar.

Gras groei nie onder hierdie dinamiese groep talentvolle mans se voete nie en hulle toer die land vol met optredes by damesoggende, groot feeste en selfs privaatfunksies.

Hulle is hard aan die werk aan ‘n nuwe album wat laat 2019 of vroeg 2020 die klankgolwe sal tref.

OOR DIE ADAMS

Hugo Ludik is ’n skrywer, sanger, kitaarspeler en talentvolle krieketspeler. Hy het in ’n huis vol musiek grootgeword. Dit het sy liefde daarvoor laat vlamvat en hom geïnspireer om homself op sestien te leer kitaarspeel. “Ek luister regtig na alles. Daar is nie ’n genre wat ek spesifiek nie van hou nie. Solank ’n liedjie ’n goeie melodie of goeie lirieke het (verkieslik albei) dan hou ek daarvan. Van alle groepe het Queen waarskynlik die grootste invloed op my eie styl gehad,” vertel hy. Sy eerste openbare optrede was in 2003 toe hy as regsstudent by die Universiteit Stellenbosch aan die interkoshuis-serenadekompetisie deelgeneem het. Daarna het hy vir vyf jaar lank saam met sy broer, die sanger en akteur Stefan Ludik, opgetree. Op ’n stadium het hy besef dat daar is ’n tekort is aan oorspronklike Afrikaanse liedjies en toe self begin skryf. In 2008 wen hy en Willie van der Merwe die Huisgenoot Tempo-liedjieskryfkompetisie met hulle liedjie, Papsopwinterwaternat, wat later deur Kurt Darren opgeneem is. Behalwe vir die musiek op ADAM se albums, skryf hy ook liedjies vir talle groot sterre soos Kurt Darren, Willem Botha, Pieter Koen en Gerhard Steyn. Hy en Vaughan Gardiner het ook hulle eie produksiemaatskappy, Muse Productions, wat musiek opneem vir verskeie kunstenaars. Wanneer jy hom vra waar die idees vir al sy liedjies vandaan kom, sê hy: “Al my liedjies kom uit persoonlike ervaring en ondervinding – hetsy direk of indirek. So ek skryf altyd oor dinge wat ek mee kan assossieer: liefde, geluk, tragedie, familie. Die musiekbedryf het my geleer om eerlik en opreg te wees met menseverhoudings en musiek… dan slaap jy soveel beter in die aand.”

Reynardt Hugo is al vir nege jaar in die musiekbedryf doenig as sanger en liedjieskrywer. Hierdie vermaaklikheidskunstenaar is bekend vir sy rol as dr. Tertius Jonker in die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders, het al in verskeie teaterstukke en verhoogproduksies, waaronder Houtkruis, gespeel en tree gereeld as seremoniemeester en spreker by funksies op. Hy was ook onlangs te sien as gasspeler in die fliek, Vuil Wasgoed en spog met ’n BA Drama-graad van die Universiteit van Pretoria. Reynardt is mal oor sekere klassieke- en popmusiek asook instrumentele snitte vanaf die klankbane van flieks en glo dat dit belangrik is om jou voete stewig op die aarde te hou, al is jy hoe suksesvol. As jy hom vra watter werk hy sou wou doen as hy nie mense vermaak het nie, verklap hy: “Ek sou dit love om te kon skilder en dat mense my werke kon koop, maar ek kan ongelukkig nie baie goed teken nie.” Hy is saam met Hugo verantwoordelik vir die skryf van ADAM se liedjies en sê: “Aan die een kant is die skryfproses baie meganies. Jy skryf spesifiek vir die mark. Jy moet, anders gaan jy nie ’n lewe kan maak nie. Aan die ander kant is dit baie persoonlik. Dit kom soos wat jou hart die lewe onvoorwaardelik liefhet en jy jouself oopmaak vir inspirasie.”

Kyle Grant is ’n sanger, danser en akteur wat sy musiek- en verhoogloopbaan by Barnyard Teaterproduksies begin het. Sy ouers is albei musikante, sy ma ’n sanger en pa ’n dromspeler, en musiek is dus nog altyd in sy bloed. Hy het 2003 sy eerste solo-album opgeneem en is al sestien jaar in die musiekbedryf. Van die hoogtepunte in sy loopbaan, sluit in sy rol as Schalk in die televisiereeks Egoli, asook rolle in suksesvolle verhoogproduksies en musiekblyspele soos Dirty Dancing, The Musical en High School Musical (waarin hy hoofrolle vertolk het), Chess – The Musical, Sunset Boulevard en Hairspray wat almal internasionaal opgevoer is. Hy is mal oor Jazz en R&B en meen dat Boyz II Men, Paolo Nutini, Frank Sinatra en Brian McKnight van die grootste invloede was op sy eie musiekloopbaan. As die vermaakbedryf nie sy loopbaan was nie, sou hy graag met diere wou werk omdat hy ’n baie sagte plek vir die natuur het. Hy was ook in sy jonger dae ’n SA-roeikampioen. Wanneer jy hom vra wat sy werk hom geleer het, antwoord hy: “Om myself te wees sonder ’n regisseur. Dit was ’n groot aanpassing om van die teaterwêreld na die popmusiekbedryf oor te slaan. Ek moes ook leer om meer oop met die publiek te wees. Ek was altyd ’n baie skaam en private mens, maar die Afrikaners het my bietjie uit my dop laat kruip.”

ADAM was nog altyd een van die mees hardwerkende groepe in Suid-Afrika en het beslis die vrugte daarvan gepluk. Drie van hulle albums, ADAM (2011), Vir Jou Gemaak (2012) en Goud (2012), het goue status bereik. In 2014 word hulle liedjie, Sal Oorlog Vir Jou Maak, ingesluit as deel van die klankbaan van die plaaslike lokettreffer, Pad Na Jou Hart, en het dit ’n oornagsukses geword. Nie net het die treffer op die nommer een posisie van radiostasies se speellyste gepronk nie, maar dit is ook vereer met ’n Huisgenoot Tempo-benoeming vir Liedjie van die Jaar en ’n Ghoema-toekenning vir Liedjie van die Jaar. Ander Ghoema-musiektoekennings op hulle kerfstok sluit in Beste Nuweling (2011) en Groep van die Jaar (2015).

Hoogtevrees het in 2017 twee Ghoema-toekennings (Groep van die Jaar en Beste Album deur ’n Groep of Duo) en ’n SAMA-toekenning vir Beste Popalbum opgeraap en die titelsnit, wat deur Hugo en Reynardt geskryf is, het verskeie weke bo-aan die treffersparades van groot radiostasies gekuier. “Dit gaan oor ’n romantiese verhouding wat by ’n kruispad kom en jy dan wonder: wat nou? Dit is ’n polsende popliedjie met ’n vinnige tempo waarop jy lekker sal kan dans”, vertel Hugo Ludik, die derde en stigterslid van die groep. Die tweede enkelsnit vanaf die album, Dis Al Wat Ek Het, wat daaroor gaan dat al wat ’n mens eintlik het om te gee liefde is, was ook ’n kitssukses en is baie goed deur die publiek ontvang.

Die groep het ook ’n Engelse kortspeleralbum, Young and Wild, uitgereik saam met Daniel Baron, wat baie goed ontvang is. Buiten vir hulle plaaslike sukses, het hulle ook vir die Ierse groep, Westlife, geopen in Namibië en vir die Australiese rockgroep, Air Supply, tydens hulle Suid-Afrikaanse toer.

ADAM – BEWE 

BEWE is ‘n spesiale dubbel-CD wat ‘n hervrystelling van die trio se suksesvolle album, Hoogtevrees, wat in Augustus 2016 uitgerei is insluit, asook tien splinternuwe snitte wat wissel tussen voetstamplekker dansliedjies, sielvolle ballades en kreatiewe verwerkings wat ou gunstelinge.Uitgereik in 2018.

1. Voorwoord

2. Vaderland

3. Goeie Ou Dae

4. Sê My (Bewe)

5. Kom wat wil

6. Kalmeer

7. Hyg

8. Daai Oë

9. Haar Vuur

10. Iets In Die Water

11. Jy Maak My

12. Kalmeer (Akoesties)

13. Dis Al Wat Ek Het (Akoesties)

14. Plak Jou Hart Vas (Akoesties)

15. Say What You Want (Akoesties)

16. Ken Jou Waarde met Early B

 

Koop Nou!

 

ADAM & Daniel Baron – Young And Wild

 

Na die sukses van hulle enkelsnit, Say What You Want het ADAM en Daniel Baron verder kragte saamgespan om ‘n 6 snit album bekend te stel. Die kragtige album is gelaai met ‘n danstreffer of twee sowel as emosionele ballades. Dit is duidelik dat ADAM en Daniel Baron se verskillende klanke saamsmelt vir ‘n eindproduk wat jou sal hoendervleis gee. Uitgereik in 2015.

 

1. Say What You Want

2. You

3. How

4. We Made It

5. Young And Wild

6. City Of Dreams

7. Say What You Want (Acoustic)

 

Koop Nou!