Corné Oosthuizen

Stigter en Hoof Uitvoerende Beampte

Corné Oosthuizen is die stigter en hoof uitvoerende beampte van CO Productions en is al meer as 24 jaar lank (sedert 1999) aktief betrokke in die vermaaklikheidsbedryf. Harde werk, passie, integriteit en lojaliteit is die ononderhandelbare waardes waarop hy CO Productions gebou het. Hy het ’n onstuitbare liefde vir Afrikaanse musiek en geniet elke uitdaging in die vermaaklikheidsbedryf.

Met ’n loopbaan wat vroeg as joernalis by ’n Media24-dagblad begin het, het Corné die nodige insig verwerf oor die aspekte van die vermaaklikheids- en media-industrie. Hy beskou sy kunstenaars as familie en weet dat dit ’n geliefde kombinasie van beste vriend, bestuurder, pa en ma verweef in een vir elk van hulle is. “Die dinamiek van ’n span speel ’n reuse rol in die sukses wat gaan volg, en dis van uiterste belang dat almal, van die personeel in my kantoor wat daagliks met die kliënte werk, tot die kunstenaar self, mekaar aanvul.”

Corné is deur sy skoolvriende onthou as iemand wat nooit “nee” vir ’n antwoord aanvaar nie en projekte aanpak met sy uitstekende oorredingsvermoë. Sy prestasie as redakteur van die skoolkoerant was besonders indrukwekkend. Toe hulle besluit het om vir Media24 se nasionale skoolkoerantkompetisie in te skryf, het Corné ’n fondsinsameling georganiseer om nuwe sagteware te koop. Uiteindelik is die skoolkoerant as derde beste in Suid-Afrika aangewys, wat ’n bewys is dat opgee nie ooit vir hom ’n opsie was nie.

Corné het na sy B.Com Besigheidsbestuur-studie aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (vandag die Nelson Mandela Metropoolse Universiteit) voltooi, terwyl hy vryskut-joernalis by Die Burger was. Hy is vervolgens aangestel as redakteur van Jong Burger, ’n tienerbylaag tot Die Burger wat kort voor lank ’n gedaanteverwisseling ondergaan het en bekendgestel is as Jip. ’n TV-program wat dieselfde naam dra, is op kykNet uitgesaai en die sinergie tussen Corné en die TV-produksiespan het enorme bemarkingswaarde vir Media24 en die Oos-Kaap meegebring. In dieselfde tyd het hy ook konserte en toere vir kunstenaars geïnisïeer.

Met ’n droom gevoed deur ambisie, sy skootrekenaar en kontakte op sy foon het hy Port Elizabeth vir die stadsliggies van Johannesburg verruil.

“Dit was nie maklik nie. My ondersteuningstelsel was in Port Elizabeth (nou Gqeberha) en ek moes vinnig aanpas om te oorleef,” vertel hy nostalgies.

Maar dit is juis moeilike uitdagings soos dié wat karakter bou en CO Productions twintig jaar later steeds een van die effektiefste en suksesvolste besighede in die bedryf maak.

Laat nie iemand se lof jou hoof op hol bring nie, en laat ook nie hul kritiek jou hart raak nie. Corné het hierdie aanhaling onlangs op sy sosiale media platforms gelaai.

Mariëtte Wahl

Besprekingsagent

Mariëtte Wahl, ‘n gebore Pretorianer, het onlangs ’n draai by Mosselbaai gemaak en is terug in die Jakarandastad. In 2017 het sy by die CO Productions-familie aangesluit. Sy het al meer as 11 jaar in die vermaaklikheidsbedryf gewerk en was betrokke by kunstenaarbesprekings.

Sy het ook as Gerrie Pretorius se produksie-koördineerder en produksiebestuurder vir ses seisoene van sy TV-program Leef Jou Reis gedoen en al die Leef Jou Reis-toere met Gerrie Pretorius reg oor die wêreld se besprekings hanteer tot einde 2018.

Nou is sy voltyds deel van die CO Productions-familie en het vinnig in almal se harte ingekruip. Kliënte en kunstenaars is gaande oor haar omgee en dat sy altyd gereed is om te help, ongeag wat die probleem of geleentheid is.