Bespreek nou vir een van hierdie aanlynkonserte om saam met jou gunsteling kunstenaar te kuier.

WILLEM BOTHA & ORKES - TUISBLY KONSERT - 30 JULIE

Sy heel eerste solo aanlynvertoning is beslis ‘n lekker gatskop partytjie wat jy nie wil misloop nie! Willem Botha deel die verhoog met ‘n 4 x stuk orkes en sorg vir ‘n energieke vertoning wat jou daar om die braaivleisvuur, kaggel of in jou sitkamer laat saamsing en skoffel. Al jou gunsteling liedjies – oud en nuut –  met ‘n orkes in die gemak van jou eie huis! Slegs R50 per kaartjie.

SA DIVAS - BILTONGSESSIE - 31 JULIE

Is jy reg om weer saam met die talentvolle en borrelende LEAH, in die gemak van jou eie huis, uit volle bors te sing? Vrydag, 31 Julie is dit tyd vir ‘n SA DIVA’S Bok Radio Biltongsessie met Leah, Le-Lue en Natisha. Maak sommer nou al ‘n nota van dié hoogtepunt in jou dagboek. Hulle sing al jou gunstelinge se gunstelinge en dit alles met ‘n vol orkes regstreeks vanaf die Jamrock Teater in Kaapstad. Kaartjies is R45 per persoon.

ANDRÉ SCHWARTZ - LIEDJIES VAN HOOP - 2 AUGUSTUS

Met die magiese Groote Kerk, in Kaapstad, as agtergrond vir André Schwartz se aanlynkonsert, kan aanhangers verseker weet – hierdie konsert gaan beslis betowerend wees. In dié akoestiese vertoning word André met tye begelei met ‘n klavier, orrel of kitaar terwyl hy liedjies soos I Believe, Amazing Grace, You Raise Me Up, Pie Jesu, You’ll Never Walk Alone, Music of the Night en Lief Vir Alles Hier vertolk om maar ‘n paar te noem.

JAY – INBLY KONSERT

Jay weet hoe om die partytjie aan die gang te kry, maar so ook ‘n lekker potjie. Nou dat ons almal meer tyd by die huis moet spandeer nooi Jay jou om virtueel by hom aan te sluit terwyl hy ‘n groot potjie aan mekaar gaan slaan. Hy gaan nie net ‘n potjie bou nie maar gaan ook lekker die potte skud met opvoerings van sy grootste treffers. Jay se INbly-konsert Potjie is Groot gaan jou verseker ‘n lekker tyd gee. En wie weet, dalk kom maak tannie Martha ‘n draai? Trek jou eie potjie nader en geniet Potjie is Groot met Jay.

ROBBIE WESSELS & ORKES - OPTOG E-KONSERT

Jy kan ’n aanlynkonsert van die immergewilde Robbie Wessels geniet as deel van die gesogte OPTOG-reeks wat vroeër die jaar by die Atterbury-teater opgeneem is. Robbie sing in dié konsert ook liedjies van sy splinternuwe album, Die Sluise van die Hemel, waarmee hy weer aanhangers laat glimlag met sy humoristiese aanslag en voed ook die dieper denkers met liedjies wat elkeen ’n storie vertel.