Willem Botha het geen bekendstelling nodig nie en het al diep spore in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf getrap.
Veelsydig is hy beslis – sanger, liedjieskrywer, akteur, TV-aanbieder en selfs fotograaf.
Hy vier vanjaar reeds sy sestiende jaar in die bedryf. Sy veelsydige stem en die passie waarmee hy elke aspek van sy loopbaan benader, het vir hom ’n stewige plek in die Suid-Afrikaanse mark gevestig en hom ’n gunsteling gemaak onder jonk en oud.
Willem is iemand van wie jy nie sommer vergeet nie. Hierdie talentvolle kunstenaar, met sy uitsonderlike veelsydige stem en aansteeklike verhoogpersoonlikheid, het diep spore kom trap in die harte van musiekliefhebbers regoor die land. Oor die afgelope paar jaar is musiek, vanaf sy vier albums (Kô Ma Hier, Sê My Nou, My Stem is Joune en Soen & Vergeet), nie net met verskeie toekennings (Huisgenoot Tempo-toekenning vir Beste Nuweling in 2007 en Fiësta-toekenning vir Beste Aanbieder 2012) en nominasies (SAMA-nominasie vir Sê My Nou in 2010, Huisgenoot Tempo – en Ghoema-nominasie vir My Stem is Joune in 2013) vereer nie, maar het hy homself ook gevestig as akteur op die silwerskerm (Liefling-Die Movie, Pretville), kassie (Donkerland, Sterlopers) en verhoog (TREE AAN, Reik Na Die Sterre, Altyd In My Drome). Hy is ‘n gereelde gesig op Kwêla as veldaanbieder op kykNET en was ook die aanbieder van die gewilde Top 20 musiekprogram op kykNET NOU! Deesdae skuif hy ook agter die kamera in waar hy van die land se grootste sterre afneem vir tydskrif voorblaaie.
Hy en Nadia Beukes het kragte saamgespan vir ’n produksie getiteld Paaie Van Hoop waar hulle by damesoggende regoor die land opgetree het. Willem Botha en Franja du Plessis het ook begin 2019 die land platgetoer met die eerste Top 20-toer. Hy is ook in 2019 vir die tweede agtereenvolgende jaar die aanbieder van die kykNET Ghoema Musiektoekenning gewees wat regstreeks uitgesaai is.
Sy enkelsnit en musiekvideo, Een Shot is ook in dieselfde jaar bekendgestel en het op verskeie radiostasies se ranglyste gepronk. Sy vyfde album, ‘n Liefde Soos Die is in Januarie 2020 bekendgestel en die titelsnit, ’n duet saam met die talentvolle Tarryn Lamb het vinnig ‘n groot gunsteling geword onder verliefde paartjies en ou getroudes! Die derde enkelsnit vanaf die album, Kimberley is uit Willem se eie pen en is ook baie goed ontvang.
In 2020 stel Willem ‘n spesiale grimeerpalet saam met MUD bekend genaamd The Chosen Collection wat steeds soos soetkoek verkoop en hy het sy eerste MUD masterclass in Bloemfontein aangebied waar hy die gaste bederf het met grimeerwenke en ‘n paar liedjies. Die eksklusiewe MUD masterclasses saam met Willem gaan ook in 2021 in 22 dorpe aangebied word so kyk gerus uit daarvoor!
DIE MENS AGTER DIE TALENT
Willem is ’n gebore musikant en is al vandat hy kan onthou versot op sing. “Ek het van kleins af ’n groot liefde gehad vir musiek. Albei my oupa’s en ouma’s was vreeslik musikaal en baie lief vir kuns. Omdat dit vir my iets was om as ’n stokperdjie te doen op die familieplaas, in Riversdal waar ek groot geword het, het ek dit altyd baie geniet,” vertel hy.
Alhoewel hy reeds vandat hy sewentien is professioneel besig is met musiek, het hy eers in 2006 regtig begin naam maak toe hy tweede plek behaal het in die eerste Afrikaanse Idols-kompetisie. Daarna het dit sy voltydse beroep en fokus geword. Hy het in 2013 geskiedenis gemaak, in Europa, toe hy die eerste Afrikaanse kunstenaar was wat deelgeneem het aan die merkwaardige Eurovision Song Contest. Hy was deel van die span van Belarus en hulle het
deurgedring tot die finaal. Meer as ’n 100-miljoen kykers het die finaal in 44 lande gevolg. Hy het ook reeds opgetree in onder meer België, Nederland, Luxemborg, Swede en Dubai.
Buiten vir sy oorsese bedrywighede, beskou Willem verskeie plaaslike suksesse as van die hoogtepunte in sy loopbaan. “Daar is so baie dinge wat vir my uitstaan. Al die albums wat ek al vrygestel het, films soos Liefling – Die Movie en Pretville, televisiereekse soos Donkerland en Sterlopers, asook teaterproduksies soos TREE AAN, Reik Na Die Sterre en Altyd In My Drome. Ek spot altyd en sê ek geniet deesdae teaterproduksies die meeste. Daar kan ek albei my liefdes gelyktydig uitleef – sing en toneelspeel,” deel die blondekop. Breek Op In Stereo, Soen & Vergeet, Swartskaap en Vat Oor By My Jesus kan beskou word as van sy suksesvolste enkelsnitte en eersgenoemde het reeds die nommer een posisie op al wat ’n radiostasie is beklee.
Hy het natuurlik ook al die verhoog gedeel met van die land se grootste kunstenaars by van die grootste feeste (KKNK, Aardklop, Innibos, ens.) en musiekkonserte (Skouspel). Hy was ook ’n gaskunstenaar op Steve Hofmeyr se Haloda-DVD wat in September 2012 uitgereik is. “Dis altyd ’n groot voorreg om genooi te word om saam met Steve te werk,” sê hy. “Ek hou daarvan om op die verhoog te wees. Dit is waar ek in my element is. Dis waar ek regtig tevrede
is.” Hy sal ook nog graag saam met kunstenaars soos Early B, Die Heuwels Fantasties en Joshua na die Reën wil werk in die toekoms. “Elke liewe persoon in die bedryf, wat ’n sukses maak van sy lewe en loopbaan, inspireer my. Ek weet watse harde werk dit vat om tot daar te kom. Die dryfkrag van die kunstenaars in ons land inspireer my elke dag om beter en harder te werk.”
As jy uitvis oor die man agter die mooi stem, verklap hy dat hy ’n perfeksionis is wat 200% tevrede wil wees met alles wat hy doen. “Ek het ’n groot avontuurlus en kan nie regtig stilsit nie. My musiek gee my die kans om die hele wêreld te sien en elke hoekie en draai van ons land te kan beleef. Wat ’n voorreg,” deel hy. Omdat diere een van sy groot passies is, sou hy heel moontlik ’n veearts wou word as hy nie mense vermaak het vir ’n lewe nie. Wanneer hy kans
kry, gaan ontspan hy steeds op hulle familieplaas en ruim hy tyd in om perd te ry, want hy is immers ’n Springbokruiter.
Country-musiek was nog altyd een van sy groot liefdes omdat hy daarvan hou dat dit ’n storie vertel. Dit het natuurlik ook ’n groot invloed gehad op sy eie styl en aanslag. “Ek luister deesdae graag na Carrie Underwood, Keith Urban, Tim McGraw en Taylor Swift se ouer musiek,” vertel hy.
Sy gunsteling-aanhaling oor musiek is dat as jou drome jou nie bang maak nie, jy nie groot genoeg droom nie… en hy is beslis nie bang om groot te droom en hard te werk nie.
Maar vir nou verower hierdie, nederige, talentvolle kunstenaar eers die harte van die publiek, media en sy mede-kunstenaars met sy unieke talent, en ons kan nie wag om te sien watter drome hy nog met ons gaan deel in die toekoms nie.